Jesaja 22:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Maar in plaas daarvan dans en speel julle! Julle slag offerdiere, eet vleis en drink wyn. “Laat ons eet en drink, en vrolik wees,” sê julle.“Wat maak dit saak, want môre is ons in elk geval dood!”

14. Die Here, die Almagtige,het aan my gewys: “Hierdie sonde van hulle sal tot die dag van hulle dood nie vergewe word nie.” So sê die oppermagtige Here, die Almagtige.

15. So sê die oppermagtige Here, die Almagtige:“Gaan sê vir Sebna, die administrateur van die paleis:

16. ‘Wat dink jy, wie is jy? Jy bou vir jou ’n pragtige graf in die rots teen die hoogte.

17. Die Here is op die punt om jou te gryp en ver weg te gooi. Hy gaan jou in ballingskap wegstuur, jou verwaande vent!

18. Hy gaan jou soos ’n bal heen en weer gooi en jou dan weggooi in ’n ver, verlate land. Daar sal jy doodgaan en daar sal die strydwaens waarmee jy so gespog het, stukkend en nutteloos lê.Jy is ’n skande vir jou koning!

19. Ek ontslaan jou uit jou amp, Ek vat jou weg uit jou posisie.

20. Dan roep Ek my dienaar, Eljakim seun van Gilkija. om jou te vervang.

21. Hy sal jou ampsklere dra, en jou titel en jou gesag hê. Hy sal ’n pa wees vir die mense van Jerusalem en Juda.

22. Ek gee hom die sleutels van die koning se huis, die hoogste posisie in die koninklike hof. Hy sal deure oopsluit, en niemand sal dit kan toesluit nie. En deure wat hy toesluit, sal niemand kan oopsluit nie.

Jesaja 22