Jeremia 48:19-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Inwoners van Aroër, gaan staan langs die pad en kyk wat gebeur.Vra elke man en vrou wat vlug, wat probeer ontkom; vra hulle: ‘Wat het gebeur?’

20. Moab is verneder, hulle is gebroke. Huil en kla!Vertel dit by die Arnonrivier dat hulle Moab verwoes het!

21. Die straf oor die dorpe op die hoogland het aangebreek, oor Golon, Jahas, Mefaät,

22. Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23. Kirjatajim, Bet-Gamul,

24. Bet-Meon, Kerijot en Bosra. Hulle sal al Moab se dorpe straf,dié wat naby en dié wat ver is.

25. Moab se mag is vernietig. Sy mag is gebreek,” sê die Here.

26. “Maak Moab dronk, want hulle is arrogant teenoor My, die Here. Laat Moab in hulle braaksel rol sodat ander hulle sal spot.

27. Moab, het jy nie met Israel die spot gedryf nie? Het jy dan nie Israel verag soos iemand wat tussen diewe betrap is nie?

28. Burgers van Moab, vlug uit julle dorpe! Gaan woon in rotsskeure soos duiwe wat hulle neste maakin die grotte.

29. “Ons het gehoor van Moab se trots en gespog. Hulle was hoogmoedig, arrogant, vermetel en hooghartig.

30. Ek weet van Moab se verwaandheid,” sê die Here. “Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.

Jeremia 48