Jeremia 37:9-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Die Here sê: Moenie julleself bedrieg en sê: ‘Die Babiloniërs sal ons uitlos’ nie. Hulle sal nie!

10. Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, sal dit niks help nie. Hulle sal uit hulle tente strompel en hierdie stad aan die brand kom steek.”

11. Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was,

12. het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig.

13. Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.

14. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.

15. Die amptenare was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Hulle het sy huis in ’n tronk verander.

Jeremia 37