Jeremia 35:5-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Ek het bekers met wyn en glase voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink.

6. Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee: ‘Nie julle of julle nageslag mag ooit wyn drink nie.

7. Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’

8. Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie.

9. Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie.

10. Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het.

11. Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek, was ons bang vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou in Jerusalem.”

Jeremia 35