Jeremia 34:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

13. “Ek, die Here, die God van Israel, sê die volgende: Lank gelede het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Ek het toe met hulle ’n verbond gesluit.

14. Aan die einde van sewe jaar moes hulle elke mede-Hebreër wat aan hulle verkoop was, vrylaat. Ná sulke mense ses jaar diens gedoen het, moes hulle vrygelaat word. Maar julle voorouers was ongehoorsaam en het dit nie gedoen nie.

15. Toe julle onlangs besef dat dit verkeerd was, het julle reg gedoen en My gehoorsaam. Julle het julle eie mense vrygelaat en in my tempel ’n verbond met My gesluit.

16. Maar nou het julle julle woord verbreek. Julle het My beledig deur die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe te maak!”

17. Die Here sê: “Julle het My nie gehoorsaam nie. Julle wou nie julle eie mense vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vrylaat – om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en hongersnood. As die nasies van die wêreld julle toestand sien, sal dit hulle met afgryse vervul.

18. As twee partye ’n verbond sluit, sny hulle ’n kalf in twee dele. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die verbond met My verbreek het.

19. Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en die gewone mense wat tussen die dele van die kalf deurgeloop het.

Jeremia 34