15. Want, sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”
16. Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek gebid en gesê:
17. “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!
18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar U laat die kinders betaal vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. U is die groot en magtige God, die Here, die Almagtige!
19. U het groot wysheid en doen groot dade. Daar is net mooi niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het en die gevolge wat dit oplewer.
20. U het destyds in Egipte wonders en tekens gedoen. U doen dit vandag nog in Israel en onder alle mense. Selfs vandag nog is U steeds daarvoor bekend.
21. U het Israel uit Egipte gebring met tekens en wonders. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het groot vrees ingeboesem.