Jeremia 28:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Maar luister nou met aandag na wat ek vir jou voor al hierdie mense gaan sê.

8. Die profete van ouds het teen baie lande en sterk ryke gepreek, en altyd oorloë, hongersnood en epidemies aangekondig.

9. As ’n profeet vrede sou verkondig, moet ’n mens sien of dit realiseer. Eers as die profeet se woorde regtig gebeur, kan ’n mens weet die Here het die persoon gestuur.”

10. Gananja het na Jeremia toe gegaan, die juk van sy nek afgehaal en dit gebreek.

11. Daarna het hy weer vir die mense wat rondom hulle gestaan het, gesê: “Die Here het belowe Hy sal binne twee jaar die juk van Nebukadnesar koning van Babel oor al die nasies verbreek.” Op dié punt het die profeet Jeremia daarvandaan weggegaan.

12. Kort daarna het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

13. “Gaan sê vir Gananja dat Ek, die Here, met hom praat: Jy het die houtjuk gebreek en jy gaan dit met ’n ysterjuk vervang.

14. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek het ’n ysterjuk op die nekke van al hierdie nasies geplaas sodat hulle koning Nebukadnesar van Babel as slawe sal dien, want Ek het alles onder sy beheer gestel, selfs die wilde diere.”

Jeremia 28