3. Sê vir hulle: ‘Konings van Juda en inwoners van Jerusalem, luister na die boodskap van die Here! Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek gaan ’n baie groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit.
4. “‘Ek doen dit omdat hulle dislojaal was aan My. Hulle het hierdie vallei onrein gemaak deur wierook vir vreemde gode te brand. Hierdie gode was so onbekend, nie vandag se mense of hulle voorouers of die konings van Juda het hulle geken nie. Hulle het ook onskuldige mense hier doodgemaak.
5. Hulle het hoogtes vir Baäl gebou. Hier het hulle hulle eie kinders as brandoffers aan Baäl geoffer. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om so iets te beveel nie!
6. Die Here sê: Neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomdal sal wees nie, maar Moorddal.
7. Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind.
8. Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting.
9. Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’
10. “Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat saam met jou gekom het.