Hebreërs 11:4-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons.

5. Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra.

6. As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

7. Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang.

8. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.

Hebreërs 11