Handelinge 27:12-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was.

13. ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar.

14. Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe.

15. Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf.

16. Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie.

Handelinge 27