18. Die volgende dag is Paulus saam met ons na Jakobus toe. Al die ouderlinge was by.
19. Ná Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God onder die nie-Jode deur sy bediening gedoen het.
20. Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys. Hulle het egter vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, daar is hoeveel duisende van dié wat gelowiges geword het wat Jode is, en hulle is almal ywerige toepassers van die wet.
21. Die gelowiges hier in Jerusalem het gehoor dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om die wet van Moses te ignoreer. Hulle beweer jy leer hulle om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die ander Joodse gebruike te onderhou nie.
22. Wat nou? Hulle sal beslis te hore kom dat jy nou hier is.
23. “Ons het ’n voorstel. Ons het vier mans hier wat ’n gelofte afgelê het en nou die nodige by die tempel moet gaan doen.
24. Vat hulle tempel toe en gaan saam met hulle deur die reinigings-handeling en betaal vir hulle haarsny. Dan sal almal weet dat die stories wat oor jou versprei word, nie waar is nie, maar dat jy self die Joodse wet nakom en onderhou.
25. “Wat betref die gelowiges wat vroeër nie-Jode was – ons het laat weet dat ons besluit het hulle moet hulle onthou van afgodsoffers, bloed, van iets wat verwurg is, en van seksuele sondes.”