Handelinge 17:28-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’

29. Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding.

30. God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer.

31. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32. Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het party hom uitgelag, maar ander het gesê: “Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor.”

33. Daarmee het Paulus uit hulle midde vertrek.

34. ’n Paar persone het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagusraad, en Damaris, ’n vrou, en nog ’n paar saam met hulle.

Handelinge 17