Genesis 9:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Wanneer ’n mens doodgemaak word, eis Ek rekenskap, of dit nou ’n dier is of ’n medemens wat dit veroorsaak. Elkeen wat sy medemens doodmaak, moet met die dood gestraf word.

6. Iemand wat ’n mens doodmaak, moet beslis self ook doodgemaak word omdat God die mens na sy beeld gemaak het.

7. Soos reeds gesê, moet julle meer word deur baie kinders te hê sodat julle die aarde kan vul.”

8. God het met Noag en sy seuns gepraat:

9. “Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag,

10. asook met die diere wat saam met julle is: die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die ark gekom het.

11. Ek onderneem dat Ek nooit weer ’n vloed sal stuur om alles wat lewe dood te maak en die aarde te verwoes nie.”

12. God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld.

13. Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde.

14. Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn,

15. sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie.

Genesis 9