15. Toe seën hy vir Josef en sê: “Mag God, die God voor wie my oupa Abraham en my pa, Isak, geleef het, die God wat my versorg het my lewe lank tot vandag toe,
16. en die Engel wat my uit alle gevaar gered het, mag Hy hierdie twee seuns seën. Mag Hy sorg dat my naam en die name van my oupa Abraham en my pa, Isak, in hulle voortleef. En mag hulle ’n groot nasie word.”
17. Maar Josef het gesien dat sy pa sy regterhand op Efraim se kop gesit het en gedink dit is ’n fout. Daarom tel hy Jakob se hand op om dit op Manasse se kop te sit.
18. “Nie so nie, Pa,” sê Josef. “Hy is die oudste. Sit u regterhand op sý kop.”
19. Maar sy pa het geweier. “Ek weet, my seun, ek weet,” sê hy. “Manasse sal ook ’n groot nasie word, maar sy jonger broer sal selfs magtiger wees as hy. Sy nageslag sal ’n magtige nasie word!”
20. Jakob het toe dié dag die seuns geseën met die woorde: “Die Israeliete sal julle name gebruik om mekaar seën toe te wens. Hulle sal sê: ‘Mag God jou so voorspoedig maak soos vir Efraim en vir Manasse.’” So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.