7. “Waarvan praat u, Meneer?” sê die broers. “Nie een van ons sal so iets aanvang nie.
8. Het ons dan nie die geld wat ons ’n vorige keer in ons sakke gekry het al die pad van Kanaän af weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel?
9. As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.”
10. “Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.”
11. Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak.
12. Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak!
13. Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe.
14. Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.
15. “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”
16. Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”
17. “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”
18. Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.
19. “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het.
20. Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’
21. Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’
22. Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’
23. Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’
24. Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het.
25. Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’
26. het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’
27. Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het