Genesis 42:27-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Toe een van hulle sy sak oopmaak om kos vir sy donkies uit te haal, kry hy sy geld bo in die sak.

28. “Haai! Kom kyk hier!” skree hy vir sy broers. “My geld is hier bo-op in my sak!” Hulle het hulle doodgeskrik en vir mekaar gesê: “Wat het God met ons laat gebeur?”

29. Toe hulle in die land Kanaän by Jakob, hulle pa, aankom, het hulle hom alles vertel wat gebeur het.

30. “Die man in beheer van die land het bars met ons gepraat,” vertel hulle. “Hy het ons vir spioene aangesien,

31. maar ons het gesê: ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.

32. Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een van ons is dood en die jongste is by ons pa in die land Kanaän.’

33. Daarop sê die belangrike man vir ons: ‘Om te kan vasstel of julle eerlik is, moet een van julle hier by my agterbly. Neem nou die graan vir julle honger gesinne en gaan huis toe.

34. Maar julle moet julle jongste broer saambring hier na my toe. Dan sal ek weet dat julle eerlik is en nie spioene nie. Ek sal dan julle broer uit die tronk vrylaat en julle mag vrylik rondbeweeg in die land.’”

35. Hulle het die sakke oopgemaak en kyk! die geld wat elkeen vir die graan betaal het, lê bo in sy sak! Hulle en hulle pa was vreesbevange.

Genesis 42