18. Hulle voorstel was aanvaarbaar vir Gamor en Sigem.
19. Sigem het nie op hom laat wag nie, want hy wou Dina bitter graag hê. Sigem was hooggeag in sy familie.
20. Hy en sy pa het saam na die vergaderplek in die poort gegaan en die voorstel aan die leiers voorgelê.
21. “Daardie mense is goedgesind teenoor ons,” het hulle gesê. “Kom ons laat hulle toe om hier by ons te woon en met ons handel te dryf, want die land is groot genoeg om hulle ook te dra. Dan kan ons met hulle ondertrou.
22. Hulle sal dit egter net op een voorwaarde oorweeg om hier te bly. Dit is dat elke manlike persoon onder ons besny word.
23. As ons dit doen, sal al hulle vee, trekdiere en besittings ons s’n word. Hulle sal dan saam met ons hier kan woon.”
24. Al die mans in die poort van die dorp het na Gamor en Sigem geluister en ingestem en hulle almal laat besny.