Genesis 30:16-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Daardie aand, toe Jakob uit die veld tuiskom, gaan Lea hom tegemoet. “Jy moet vanaand by my slaap,” sê sy. “Ek het daarvoor betaal met die liefdesappels van my seun.” Jakob het toe by haar geslaap.

17. God het haar gebede verhoor. Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n vyfde seun.

18. Sy het hom Issaskar genoem, want sy het gesê: “God het my beloon omdat ek my slavin vir my man as vrou gegee het.”

19. Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n sesde seun.

20. Sy het hom Sebulon genoem, want sy het gesê: “God het ’n goeie geskenk vir my gegee. Nou sal my man by my kom bly, want ek het vir hom al ses seuns gegee.”

21. Later het sy ook aan ’n dogter geboorte gegee en haar Dina genoem.

22. Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar kinders te gee.

23. Sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. “God het my skande weggeneem,” het sy gesê.

Genesis 30