Genesis 19:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Buite die stad waarsku een van die engele: “Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte gaan stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.”

18. “Ag nee tog, Menere,” pleit Lot.

19. “Julle was nou so goed om my lewe te red en het ook guns aan my betoon. Maar ek sal nie die berge haal nie. Die ramp sal my inhaal en ek sal doodgaan.

20. Kyk, hier naby is ’n klein dorpie. Laat my asseblief tog daarheen vlug. Kyk net hoe klein is dit! Dan sal my lewe gespaar word.”

21. “Goed,” sê die engel, “ek sal aan jou versoek voldoen. Ek sal die klein dorpie spaar.

22. Maar maak gou om daar te kom, want ek kan niks doen voordat jy daar is nie.” Van toe af is die klein dorpie Soar genoem.

23. Net toe die son opkom, het Lot by die dorpie aangekom.

24. Toe het die Here vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën.

25. Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere.

26. Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander.

27. Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het.

28. Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra. Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ’n steenoond.

29. Maar God het Abraham se versoek onthou en Lot gered uit die verwoesting van die stede in die vlakte waar hy gewoon het.

Genesis 19