Ester 7:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die koning en Haman het by koningin Ester aangekom om saam met haar te eet.

2. Terwyl hulle besig was om op die tweede dag wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Ek sal dit vir jou gee. Jy kan kry net wat jy wil hê, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”

3. Koningin Ester antwoord toe: “As U Majesteit my genadig wil wees, en as dit vir u reg is, dan vra ek u asseblief om my en my volk se lewens te spaar.

4. Ek en my volk is verkoop aan hom wat ons wil doodmaak, ons wil uitwis en van die aarde af wil wegvee. As ons maar net as slawe en slavinne verkoop was, sou ek stilgebly het. Dit sou dan te onbenullig wees om die koning daarmee lastig te val.”

5. “Wie is dit wat so iets wil doen?” vra koning Ahasveros vir koningin Ester. “Waar is hy?”

6. Ester antwoord toe: “Ons vervolger en vyand is hierdie slegte Haman!” Haman het asvaal van skrik voor die koning en koningin geword.

Ester 7