7. Moenie in die pad staan van die bouwerk aan die tempel van God nie. Laat die goewerneur van Juda en die Judese leiers toe om die tempel van God op die oorspronklike plek te herbou.
8. “Ek beveel verder ook dat julle hierdie leiers van die Jode moet bystaan om die tempel van God te herbou. “Betaal ook dadelik al die kostes van die bouwerk uit die belastings wat julle in julle provinsie wes van die Eufraat ingesamel het sodat die werk nie stilstaan nie.
9. “Voorsien ook aan die priesters in Jerusalem wat hulle nodig het om aan die God van die hemel te offer. Dit sluit in jong bulle, ramme en lammers. Moet ook nie nalaat om vir hulle die koring, sout, wyn en olyfolie te gee wat hulle daagliks nodig het nie.
10. Hulle sal dan in staat wees om aanvaarbare offers aan die God van die hemel te bring en vir my en my seuns te bid.
11. “Ek beveel ook dat as mense hierdie bevel verontagsaam, ’n balk uit hulle huise geruk moet word. Nadat hulle aan die balk opgehang en geslaan is, sal hulle huise ’n rommelhoop gemaak word.
12. “God het Jerusalem gekies as ’n plek waar hulle sy Naam sal eer. Mag Hy enige koning of nasie wat my bevel verontagsaam en die tempel afbreek, vernietig. Ek, Darius, het hierdie dekreet uitgevaardig. Mense moet dit met sorg nakom.”
13. Tattenai die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare het die bevel van koning Darius sorgvuldig nagekom.
14. Die prediking van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het die Joodse leiers aangespoor om met die werk aan te gaan. Soos die God van Israel beveel het en op bevel van Kores, Darius en Artasasta, die konings van Persië, het hulle die tempel uiteindelik klaar gebou.
15. Die werk aan die tempel was klaar op 12 Maart. Dit was in die sesde jaar wat koning Darius regeer het.