4. Op elke drie lae van die gekapte steenblokke moet hulle ’n laag hout plaas. Die koninklike skatkis sal alle kostes vir die bouwerk dra.
5. Al die goue en silwer voorwerpe wat Nebukadnesar uit die tempel van God in Jerusalem gevat het en na Babel toe gebring is, moet teruggegee word. Dit sal soos vroeër weer in die tempel van God in Jerusalem gesit word.”
6. Koning Darius het die volgende boodskap gestuur: “Aan die goewerneur Tattenai van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat: Bly weg daarvandaan!
7. Moenie in die pad staan van die bouwerk aan die tempel van God nie. Laat die goewerneur van Juda en die Judese leiers toe om die tempel van God op die oorspronklike plek te herbou.
8. “Ek beveel verder ook dat julle hierdie leiers van die Jode moet bystaan om die tempel van God te herbou. “Betaal ook dadelik al die kostes van die bouwerk uit die belastings wat julle in julle provinsie wes van die Eufraat ingesamel het sodat die werk nie stilstaan nie.
9. “Voorsien ook aan die priesters in Jerusalem wat hulle nodig het om aan die God van die hemel te offer. Dit sluit in jong bulle, ramme en lammers. Moet ook nie nalaat om vir hulle die koring, sout, wyn en olyfolie te gee wat hulle daagliks nodig het nie.