Esegiël 48:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die gebied wat julle opsy sit vir die Here se tempel moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed wees.

10. Hierdie gebied is tot beskikking van die priesters, en moet ’n strook wees van dertien en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here is in die middel hiervan.

11. Die gebied word opsy gesit vir gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle was gehoorsaam aan My en het nie afgedwaal soos die mense van Israel en die res van die Leviete nie.

12. Dié grond is hulle spesiale deel van die heiligste gedeelte van die land. Langs die priesters se grond lê dié van die ander Leviete.

13. Die grond wat aan die Leviete toegedeel word, moet dieselfde grootte en vorm wees as dié wat aan die priesters behoort – ook dertien en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Saam is dié twee gedeeltes dus dertien en ’n half kilometer lank by tien en ’n half kilometer breed.

14. Dié spesiale grond mag nooit verkoop of verruil word nie, want dit behoort aan die Here. Dit is apart gesit om heilig te wees.

Esegiël 48