Esegiël 45:6-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. “Aangrensend aan die groter heilige gebied moet daar ’n stuk grond van twee en ’n half kilometer breed en twaalf en ’n half kilometer lank wees. Dit moet opsy gesit word as ’n stad waar enigeen in Israel kan kom bly.

7. “Twee gedeeltes grond moet vir die regeerder eenkant gesit word. Een gedeelte grens aan die oostelike kant van die gewyde grond en stad, en die ander aan die westekant. Dit moet net so groot wees soos een van die stamgebiede en moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens.

8. Dit moet sy deel van die land wees tussen die Israeliete.”“Die regeerder wat Ek aanwys, sal my volk nie weer verdruk nie. Hy sal die volk van Israel toelaat om die land volgens hulle stamme te verdeel.

9. Want so sê die oppermagtige Here: Genoeg, julle regeerders van Israel! Hou op met julle geweld en verdrukking en doen wat reg en goed is. Hou op om my mense te besteel en uit hulle grond te bedrieg!

10. Gebruik eerlike skale en die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe.

11. Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens ’n vasgestelde maatstaf.

12. Die standaardeenheid vir gewig is die silwer sikkel. Een sikkel bevat twintig geras, en 60 sikkels is gelyk aan een mina.”

13. “Die belasting wat julle aan die regeerder moet betaal, is: een 60ste van die koring en die gars,

14. en een 100ste van julle olyfolie,

15. en uit die waterryke gebiede een uit elke 200 van julle kleinveekudde. Hierdie is die graanoffers, brandoffers en vrede-offers wat vir die mense versoening bring, sê die oppermagtige Here.

16. Die hele volk moet vir die regeerder hulle offers bring.

Esegiël 45