Eksodus 3:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Moses het egter teëgestribbel: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy eintlik?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”

14. God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.’”

15. God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem.

16. “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar. Sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet. Hy het vir my gesê: Jy kan seker wees dat Ek oor julle bekommerd is en dat Ek raakgesien het wat met julle in Egipte gebeur.

17. Ek sal julle weglei van die onderdrukking in Egipte na die land waarin die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete nou bly. Dit is ’n land waarin daar volop kos is.’

Eksodus 3