Deuteronomium 4:22-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Alhoewel julle die Jordaan sal oorsteek om die land te verower, sal ek aan hierdie kant van die rivier doodgaan.

23. Wees dus versigtig om nie die verbond te verbreek wat die Here julle God met julle gesluit het nie. Julle sal dit breek as julle op enige manier afgodsbeelde maak. Die Here julle God het dit ten strengste verbied.

24. Die Here julle God is soos ’n vuur wat alles verbrand. Hy is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis.

25. “In die toekoms, wanneer julle reeds vir geruime tyd in die land gewoon het en kinders en kleinkinders het, moet julle nie julleself benadeel deur afgodsbeelde van enige aard te maak nie. Dit is verkeerd in die oë van die Here julle God. Dit sal Hom net kwaad maak.

26. “Vandag roep ek die hemel en die aarde as getuies teen julle. As julle my nie gehoorsaam nie, sal julle baie vinnig verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem as julle deur die Jordaan trek. Julle sal net ’n kort tydjie in die land woon en dan sal julle totaal verdelg word.

Deuteronomium 4