Deuteronomium 3:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Ons het die koninkryk van Basan totaal verdelg, net soos wat ons koning Sihon van Gesbon vernietig het. Ons het al die inwoners, mans, vroue en kinders, uitgewis in elke stad wat ons verower het.

7. Ons het die diere vir onsself gehou en ook die buit van die stede wat ons geplunder het.

8. “Ons het die land van twee Ammoritiese konings oos van die Jordaanrivier van die Arnonkloof tot by Hermonberg in besit geneem.

9. (Die Sidoniete het die Hermonberg die Sirjon genoem, en die Amoriete Senir.)

10. Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

11. (Koning Og van Basan was die laaste van die reuse Refaïete. Sy ysterbed was meer as vier meter lank en byna twee meter breed. Dit kan nog steeds in die Ammonitiese stad Rabba gesien word.)”

Deuteronomium 3