Daniël 11:20-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Sy opvolger sal ’n afgevaardigde stuur om belasting te hef vir die onderhoud van die koninkryk. Hy sal egter na ’n kort tydjie sterf, maar nie deur geweld of deur oorlog nie.

21. “In sy plek sal ’n aanstootlike persoon koning word wat nie uit die koningsgeslag is nie. Hy sal ongemerk insluip en met omkopery die mag oorneem.

22. Sterk leërmagte sal voor hom weggevee en vernietig word, selfs ’n leier met wie hy ’n ooreenkoms het.

23. Hy sal deur bedrog ooreenkomste sluit. Met slegs ’n handjievol ondersteuners sal hy sterk word.

24. Hy sal stil-stil in die ryk gebiede van die land kom en iets doen wat sy voorouers en hulle voorouers nooit gedoen het nie: hy sal hierdie gebiede roof en plunder. Hy sal planne beraam teen vestings, maar dit sal net vir ’n tydjie aanhou.

25. “Dan sal hy gereedmaak en met ’n sterk leër teen die koning van die suide optrek. Die koning van die suide sal ook ’n baie groot en sterk weermag teen hom op die been bring. Hy sal egter nie teen hom opgewasse wees nie, want daar is ’n slim plan teen hom beraam.

Daniël 11