25. Dawid beveel toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad toe. As die Here my genadig is, sal Hy my terugbring om weer die ark en die heiligdom te sien.
26. Maar as Hy sê: ‘Ek is nie met jou tevrede nie,’ sal ek aanvaar wat Hy ook al besluit.”
27. Die koning sê toe vir Sadok die priester: “Kyk, jy is mos ’n siener! Gaan vreedsaam terug stad toe, jy en jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar.
28. Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.”
29. Sadok en Abjatar het toe die ark van God na Jerusalem toe teruggeneem en daar gebly.
30. Dawid het met die pad geloop wat teen die Olyfberg opgegaan het en het die hele tyd gehuil. Sy kop was toegemaak en hy was kaalvoet as ’n teken van rou. Die mense saam met hom het ook hulle koppe toegemaak en gehuil terwyl hulle teen die skuinste opgegaan het.