2 Samuel 15:13-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!”

14. “Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.”

15. “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle.

16. Die koning en sy huishouding het toe dadelik per voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg.

17. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan.

18. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.Terwyl hulle voor die koning verbytrek,

19. vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap.

20. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”

21. Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”

2 Samuel 15