11. “Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vroue voor jou oë vir ’n ander man gee, en hy sal oop en bloot, in die helder daglig, by hulle gaan slaap.
12. Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen.”
13. Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: “Ek het teen die Here gesondig.”Natan antwoord hom: “Die Here het jou sonde vergewe sodat jy nie oor hierdie sonde sal sterf nie.
14. Maar jy het vir die vyande van die Here geleentheid gegee om Hom te laster. Daarom sal hierdie kind sterf.”
15. Nadat Natan daar weg is, het die Here die kind van Urija se vrou en Dawid dodelik siek laat word.
16. Dawid het die Here gesmeek om die kind se lewe te spaar. Hy het gevas, en die hele nag op die vloer gelê.
17. Die oudstes van sy huishouding het by hom gepleit om op te staan, maar hy het geweier en wou nie saam met hulle eet nie.
18. Op die sewende dag het die kind gesterf. Dawid se amptenare was bang om dit vir hom te vertel. “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy wou nie vir ons luister nie,” het hulle gesê. “Watter onverantwoordelike ding sal hy dalk doen as ons hom vertel dat die kind dood is?”
19. Dawid het opgemerk dat hulle onder mekaar fluister en hy het besef dat die kind gesterf het. “Is die kind dood?” vra hy.“Ja, hy is dood,” antwoord hulle.
20. Toe het Dawid van die grond af opgestaan, homself gewas en reukolie aangesmeer. Nadat hy skoon klere aangetrek het, het hy in die heiligdom ingegaan en daar aanbid. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en kos gevra. Hulle het dit gebring en hy het geëet.
21. Maar sy amptenare vra vir hom: “Hoe moet ons nou u optrede verstaan? Terwyl die kind nog gelewe het, het u gehuil en gevas. Maar noudat die seun dood is, het u opgestaan en geëet.”