2 Petrus 2:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes!

15. Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor, wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen.

16. Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het.

17. Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds.

18. Hulle is bombasties en praat onsin. Hulle gebruik die losbandige luste van die mens se natuurlike drange as lokaas om die mense wat pas ontsnap het van dié wat op die verkeerde pad is, te verlei.

19. Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in diens van korrupsie. As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf.

20. En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.

2 Petrus 2