2 Petrus 2:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Omdat hulle lewe voor God nie reg is nie, kry hulle presies dít wat hulle verdien. Vir hulle is die toppunt van plesier om helder oordag wilde partytjies te hou. As hulle by julle eet, is dit baie sleg vir julle naam, want terwyl hulle saam met julle feesvier, is dit vir hulle lekker om julle saam te vat op die paaie waarop hulle self verdwaal het.

14. Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes!

15. Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor, wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen.

16. Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het.

17. Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds.

2 Petrus 2