9. Daarna het Asa die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die inwoners van Efraim, Manasse en Simeon wat onder hulle kom woon het. Baie van hulle het gedurende Asa se regering na Juda toe verhuis omdat hulle gesien het dat die Here sy God met hom was.
10. Hulle het almal in die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa by Jerusalem bymekaargekom.
11. Op daardie dag het hulle sommige van die diere wat in die oorlog gebuit was aan die Here geoffer. Dit was 700 beeste en 7 000 kleinvee.
12. Toe het hulle met hart en siel ’n verbond met die Here die God van hulle voorouers gesluit.
13. Hulle het besluit dat enigiemand wat weier om die Here die God van Israel te dien, doodgemaak moet word, sou dit jonk of oud, man of vrou wees.
14. Hulle het die eed van trou aan die Here met trompetgeskal en die klank van ramshorings bekendgemaak.