6. Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is.
7. Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem.
8. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel.
9. Hy het die tempel van die Here, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand.