1 Samuel 12:17-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die Here vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die Here ’n koning te vra!”

18. Toe roep Samuel die Here aan en die Here het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die Here en vir Samuel.

19. “Bid tog tot die Here u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.”

20. “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die Here met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie.

21. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos!

22. Ter wille van sy grote Naam sal die Here nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.

23. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is.

1 Samuel 12