7. Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou.
8. Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.”
9. Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur.
10. Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoet kom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het.
11. Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?”
12. Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?”
13. Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan.
14. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom.“Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy.
15. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”
16. “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.
17. Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep
18. en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.
19. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”
20. Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.
21. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.
22. Hulle vra toe vir die Here: “Maar is die man al hier?”Toe antwoord die Here: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.”
23. Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders.