28. Party van die hekwagters moes ook sorg vir die verskillende gereedskap wat in die tempel gebruik is. Hulle moes sorg dat dit uitgeneem en teruggebring word sonder dat iets verlore gaan.
29. Ander was verantwoordelik vir die meubels en al die heilige voorwerpe, ook die fynmeel, wyn, olie, wierook en speserye.
30. Maar dit was die priesters wat die speserye en wierook voorberei het.
31. Mattitja, ’n Leviet en oudste seun van die Koragiet Sallum, was verantwoordelik vir die brood wat vir die offers gebak is.
32. En party lede van die Kehatietegroep was verantwoordelik vir die brode wat elke Sabbat op die tafel geplaas is.
33. Die musikante, almal prominente Leviete, het in die tempel gewoon. Hulle was vrygeskeld van ander verantwoordelikhede omdat hulle alle ure aan diens was.