13. Hy was saam met Dawid in die geveg teen die Filistyne by Efes-Dammim. Die geveg het plaasgevind in ’n stuk land vol gars, en die Israelitiese soldate het vir die Filistyne gevlug.
14. Maar hulle het in die middel van die stuk land gaan staan en die Filistyne teruggejaag. So het die Here hulle deur ’n groot oorwinning gered.
15. Eenkeer terwyl Dawid naby die grot van Adullam was, het die Filistynse weermag in die Refaimvallei uitgekamp. Die Drie, deel van die Dertig wat Dawid se elitegevegsgroep was, het afgetrek om by hom te wees.
16. Dawid het toe in die bergvesting gaan bly, want ’n deel van die Filistynse leër het Betlehem beset.
17. Dawid het verlangend gesê: “Ag, hoe wens ek dat ek van die goeie water van die put in Betlehem kan kry, die put by die ingang!”
18. Die Drie het toe deur die laer van die Filistyne gebreek, water uit die put van Betlehem wat by die poort was, geskep en dit vir Dawid gebring. Dawid het geweier om dit te drink. Hy het dit voor die Here uitgegiet.
19. “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink!” het hy uitgeroep. “Hierdie water is net so kosbaar as die bloed van die manne wat hulle lewe gewaag het om dit vir my te bring.” Dawid het dit nie gedrink nie. Dit is ’n voorbeeld van wat die Drie gedoen het.
20. Abisai, die broer van Joab, was die leier van die Dertig. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand doodgemaak. Dit was oor sulke kordaatstukke dat hy net so bekend geword het as die Drie.