22. Daarna het die profeet weer gekom en vir koning Agab gesê: “Tref voorbereidings en beplan vir nog ’n aanval, want oor ’n jaar sal die koning van Aram weer teen u optrek.”
23. Daarna het Ben-Hadad se raadgewers vir hom gesê: “Die gode van die Israeliete is berggode. Dis hoekom hulle gewen het. Maar as ons die oorlog op die vlaktes voer, sal ons hulle verslaan.
24. Ons moet net die volgende verandering maak: Onthef die konings van hulle bevelsposisies en vervang hulle met gewone bevelvoerders.
25. U moet self weer ’n leër op die been kry soos die een wat verslaan is. Laat daar net soveel perderuiters, strydwaens en manne wees soos voorheen. Dan pak ons hulle op die vlaktes. Daar is geen twyfel dat ons hulle dan sal verslaan nie.” Koning Ben-Hadad het toe gemaak soos hulle voorgestel het.