19. Die man van God het nogtans saam teruggegaan en by die profeet se huis kos geëet en water gedrink.
20. Terwyl hulle nog aan tafel was, kom daar ’n boodskap van die Here na die ou profeet.
21. Hy sê vir die man van God uit Juda: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het in verset gekom teen die Here se opdrag en was ongehoorsaam aan die bevele wat die Here jou God jou gegee het.
22. Jy het na hierdie plek toe teruggekom en kos geëet en water gedrink terwyl Hy jou belet het om iets te eet of water te drink. Daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.’”
23. Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet wat hom laat afdraai het, die donkie vir hom opgesaal.
24. Die man van God het toe vertrek. Op pad het ’n leeu hom aangeval en doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, terwyl die donkie en die leeu albei langs die liggaam bly staan het.