Yirmeyahu 48:18-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Kom af uit jou lof en eer en sit op die geskroeide grond, o dogter wat in Divon bly, want die verwoester van Mo’av het teen jou opgekom, hy het jou vestings verwoes.

19. Staan by die pad en hou wag, o inwoner van `Aro’er! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontsnap; sê: ‘Wat het gebeur?’

20. Mo’av is tot skaamte gemaak, want hy is in stukkies. Huil en roep uit, verkondig dit by die Arnon dat Mo’av vernietig is!

21. Oordeel het ook gekom op die vlakte, oor Holon, Yagtzah en teen Mefa’at,

22. teen Divon, N’vo en Beit-Diblatayim,

23. teen Kiryatayim, Beit-Gamul en Beit-M’on,

24. teen K’riot, Botzrah en al die stede van die land van Mo’av, ver en naby.

25. Die horing van Mo’av is afgekap en sy arm gebreek,” verklaar יהוה.

26. “Maak hom dronk, want hy het arrogant geword teen יהוה sodat Mo’av rondrol in sy uitbraaksel en ook ’n bespotting word.

27. Nou, was Yisra’el nie vir jou ’n bespotting nie? Of is hy tussen die diewe betrap? Want elke keer as jy van hom praat, skud jy jou kop in minagting.

28. Verlaat die stede en gaan bly in die skeure, o inwoners van Mo’av! Wees soos ’n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.

29. Ons het van die trots van Mo’av gehoor; hy is baie trots; van sy hoogmoedigheid, sy trots, sy arrogansie en sy selfverhoging.

Yirmeyahu 48