1. Toe het Y’hoshua, die seun van Nun, in die geheim twee manne as verkenners uit Shitteem uitgestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en veral Yerigo.” Hulle het gegaan en in die huis van ’n hoer, met die naam van Ragav, ingekom en daar gebly.
2. Dit is aan die koning van Yerigo vertel en gesê: “Let op, manne uit die seuns van Yisra’el het vannag hierheen gekom om die land te verken.”
3. Die koning van Yerigo het na Ragav gestuur om te sê: “Bring die manne uit wat na jou toe gekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken.”
4. Die vrou het egter die twee manne gevat en hulle weggesteek en sy het gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie.
5. Dit het gebeur dat toe die poort met donker gesluit moes word, die manne uitgegaan het; ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie; agtervolg hulle gou, want julle sal hulle inhaal.”
6. Sy het hulle egter opgevat na die dak toe en hulle weggesteek onder die vlasstingels wat sy op haar dak oopgegooi het.