Numeri 32:12-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. behalwe Kalev, die seun van Y’funneh, die K’niziet en Y’hoshua, die seun van Nun, want hulle het יהוה volkome gevolg.’

13. Die woede van יהוה het teen Yisra’el ontbrand en Hy het hulle veertig jaar lank in die wildernis laat rondswerf totdat die hele geslag, wat boos gedoen het in die oë van יהוה, vernietig is.

14. Let op, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ’n voortplanting van sondige mense, om by die brandende woede van יהוה teen Yisra’el by te voeg.

15. As julle wegdraai daarvan om Hom te volg, sal Hy hulle nog langer in die wildernis laat bly en julle sal al hierdie mense vernietig.”

16. Hulle het na hom toe gekom en gesê: “Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders,

17. maar ons self sal gewapen wees, gereed om te gaan voor die seuns van Yisra’el totdat ons hulle op hul plekke gebring het en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die inwoners van die land.

18. Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat elkeen van die seuns van Yisra’el sy erfenis ontvang het nie,

19. want ons sal nie saam met hulle anderkant die Yarden en verder erf nie omdat ons erfdeel aan dié kant, oos van die Yarden, ons toegeval het.”

20. Moshe sê vir hulle: “As julle dit doen, as julle jul voor יהוה vir die oorlog bewapen

21. en julle almal bewapend voor יהוה deur die Yarden trek totdat Hy Sy vyande voor Hom uit verdrywe het

22. en die land voor יהוה onderwerp is, dan mag julle teruggaan, dan sal julle onskuldig wees voor יהוה en voor Yisra’el en hierdie land sal vir julle ’n besitting word voor יהוה,

23. maar as julle dit nie so doen nie, let op, julle het teen יהוה gesondig en weet dat julle sonde julle sal uitvind.

24. Bou stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee en doen wat julle belowe het.”

25. Die seuns van Gad en die seuns van Re’uven het met Moshe gepraat en gesê: “U diensknegte sal doen soos my meester beveel het.

26. Ons kinders, ons vroue, ons kleinvee en al ons vee sal daar wees, in die stede van Gil’ad,

27. maar u diensknegte sal oorgaan na die geveg, almal vir die oorlog bewapen voor יהוה, net soos my meester gesê het.”

28. Moshe het aangaande hulle aan El’azar, die priester, aan Y’hoshua, die seun van Nun en aan die hoof vaders van die stamme van die seuns van Yisra’el bevel gegee

29. en Moshe het vir hulle gesê: “As die seuns van Gad en die seuns van Re’uven saam met julle oor die Yarden trek, elke man bewapen vir die oorlog voor יהוה en die land voor julle uit onderwerp is, moet julle die land Gil’ad vir hulle as ’n besitting gee,

30. maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle tussen julle in die land Kena’an besittings verkry.”

31. Die seuns van Gad en die seuns van Re’uven het geantwoord en gesê: “Wat יהוה aan u diensknegte gesê het, so sal ons doen.

Numeri 32