Markos 5:8-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9. Hy vra vir hom: “Wat is jou karakter en outoriteit?” en hy antwoord en sê: “Legioen is ons naam (karakter en outoriteit), want ons is baie”

10. en hulle het Hom baie gesmeek om hulle nie uit die streek uit weg te stuur nie.

11. Naby die berg was daar ’n groot trop varke aan die wei

12. en al die bose geeste het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke sodat ons in hulle kan ingaan.”

13. Hy het hulle toegelaat en die vuil geeste het uitgegaan, in die varke ingegaan en die trop het na ’n krans gehardloop en in die see geval en omtrent twee duisend het in die see verdrink.

14. Die oppassers van die varke het gevlug en dit in die stad en omgewing gerapporteer en hulle het uitgekom om te sien wat gebeur het.

15. Hulle kom by Yeshua en sien die een in wie Legio was, wat deur die bose geeste beheer was, sit - aangetrek, nugter en ordentlik en hulle was bang.

16. Die wat dit gesien het, gee toe verslag oor wat gebeur het met die een wat deur die bose gees beheer is en ook met die varke

17. en hulle het Hom begin vra om weg te gaan van hulle kus af.

18. Nadat Hy in die boot geklim het, het die man, wat deur die bose geeste beheer was, Hom gevra om by Hom te bly,

19. maar Yeshua het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis en jou mense toe en maak aan hulle bekend alles wat יהוה vir jou gedoen het en dat Hy liefdevol omgegee het vir jou.”

20. Hy het weggegaan en in die gebied van die tien stede begin verkondig watter groot dinge Yeshua vir hom gedoen het en almal was verwonderd.

21. Nadat Yeshua in die boot oorgevaar het na die ander kant toe, het baie mense by Hom bymekaargekom terwyl Hy langs die see was

22. en daar kom een van die hoofde van die bymekaarkomplek, met die naam van Ya’ir, na hom toe en toe hy Hom sien, val hy voor Sy voete neer

23. en smeek dringend van Hom en sê: “My dogter is op die punt om te sterf; kom lê U hand op haar en sy sal gesond word en lewe.”

24. Yeshua het saam met hom gegaan en ’n groot klomp mense het Hom gevolg en om Hom gedruk van alle kante af.

25. Daar was ’n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het,

26. wat baie onder baie geneeshere gely het, al haar besittings uitgegee het en niks het gehelp nie, maar dit het, inteendeel, erger geword.

Markos 5