Luka 16:11-23 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. As julle dan nie vertrouenswaardig was met die boosheid van rykdom nie, wie sal vertrou dat daar waarheid in julle is?

12. As julle nie vertrouenswaardig was met ’n ander se besittings nie, wie sal aan julle jul eie gee?

13. Geen dienskneg kan twee meesters dien nie, want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een eer en die ander een verwaarloos. Julle kan nie ’n dienskneg wees van God én van geld nie’.”

14. Al hierdie dinge het die Fariseërs, wat begeer het na geld, ook gehoor en Hom openlik verkleineer.

15. Yeshua sê vir hulle: “Julle regverdig julleself voor die mense, maar God ken julle gedagtes, wil en emosies, want wat by die mens hoog geag word, is verwerplik voor God.

16. Die wet en die profete is tot by Yoganan; van toe af word die goeie boodskap van die Koninkryk van God aangekondig en elkeen druk om in te gaan,

17. maar dit is makliker vir die hemel en die aarde om verby te gaan as dat een strepie van ’n letter van die wet sou wegval.

18. Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.

19. Daar was ’n sekere ryk man en hy het purper klere en wit linne gedra en het elke dag uitspattig fees gevier.

20. Daar was ook ’n sekere arm man met die naam van El’azar, vol swere, wat voor sy poort gelê het

21. en hy het begeer om sy maag te vul met die krummels wat van die ryk man se tafel afval en die honde het ook gekom en sy swere gelek.

22. Toe die arm man sterf, is hy deur die engele weggedra na die arms van Avraham en die ryk man het ook gesterf en is begrawe.

23. Terwyl hy in Sh’ol gely het, het hy sy oë opgelig en hy sien Avraham ver weg en El’azar aan sy bors.

Luka 16