9. maar toe sommige hulle verhard en nie vertrou nie en voor die mense aanhou kwaadpraat van ‘die Pad van God’, het hy van hulle af onttrek en elke dag met die studentevolgelinge afsonderlik besprekings gehou in die skool van ’n sekere Turannos.
10. Dit het twee jaar lank aangehou totdat almal wat in Asië gebly het die boodskap van יהוה gehoor het, Arameërs, sowel as Jode.
11. God het baie wonderwerke deur die hande van Sha’ul gedoen
12. sodat selfs wanneer handdoeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle af weggegaan en demone uit hulle uitgegaan het.
13. Sommige van die rondreisende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van ons Meester, Yeshua, te noem oor die wat bose geeste gehad het en te sê: “Ons dryf jou uit in die Karakter en Outoriteit (Naam) van díe Yeshua wat Sha’ul verkondig!”
14. Dit is deur sewe seuns van ’n sekere Skevas, ’n Joodse leierpriester, gedoen,
15. maar hierdie bose demoon het geantwoord en gesê: “Yeshua ken ek en Sha’ul ken ek, maar julle, wie is julle?”
16. Toe spring die man, in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en gooi hulle neer sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis weggevlug het.
17. Dit het bekend geword aan al die Jode en Arameërs wat in Efesos bly, vrees het op hulle almal gekom en die Outoriteit en Karakter van die Meester, Yeshua, is grootgemaak.
18. Baie van die wat vertrou het, het gekom en erken wat hulle gedoen het en dat dit verkeerd was;
19. heelwat van die wat met towery omgegaan het, het die boekrolle saamgebring en voor almal verbrand en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwer stukke was.
20. So het die vertroue in God kragtig in krag gegroei.
21. Toe hierdie dinge verby was, het Sha’ul in sy gedagtes besluit om na Makedonia en Agaia te gaan en dan na Yerushalayim. Hy het gesê: “Nadat ek daar was, is dit nodig dat ek Rome ook sien.”
22. Toe stuur hy twee van sy helpers, Timotheos en Erastos, na Makedonia terwyl hy self nog ’n tyd lank in Asië bly.
23. Daardie tyd het daar ’n groot opskudding gekom oor ‘die Pad van God’,
24. want iemand met die naam van Demetrios, ’n silwersmid, maker van silwer tempeltjies van Artemis, het vir die ambagsmanne ’n aansienlike inkomste voorsien.
25. Toe hy hulle, asook werkers in dieselfde bedrywe, bymekaargeroep het, sê hy: “Manne, julle weet dat ons winste alles uit hierdie besigheid is
26. en julle sien en hoor dat nie alleen in Efesos nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Sha’ul baie mense oortuig en laat wegdraai het deur te sê dat dít wat met hande gemaak word, geen gode is nie.