Genesis 42:14-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Yosef sê vir hulle: “Dit is soos wat ek vir julle gesê het: julle is spioene!

15. Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie weggaan tensy julle jongste broer hierheen kom nie.

16. Stuur een van julle dat hy julle broer gaan haal, maar júlle sal in die tronk bly sodat julle woorde getoets kan word, of daar enige waarheid by julle is of nie; anders, so waar as Farao leef, julle is spioene!”

17. Daarop het hy hulle almal saam vir drie dae lank in die tronk gehou.

18. Op die derde dag sê Yosef vir hulle: “Doen dit en lewe, want ek het respekvolle vrees vir God!

19. As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in die tronk is, maar gaan júlle, vat die graan vir die hongersnood van julle huise

20. en bring julle jongste broer na my toe sodat julle woorde waar bewys word en julle sal nie sterwe nie. “ Hulle het so gemaak.

21. Hulle sê vir mekaar: “Ons is waarlik skuldig vanweë ons broer omdat ons die benoudheid van sy wil, emosie, verstand en lewe gesien het toe hy ons gesmeek het en ons wou nie luister nie; daarom het sy benoudheid oor ons gekom.”

22. Re’uven antwoord hulle en sê: “Het ek nie met julle gepraat en gesê: ‘Moenie sondig teen die seun nie,’ maar julle wou nie luister nie? Let op, daarom word sy bloed nou van ons geëis.”

23. Hulle het nie geweet dat Yosef hulle verstaan nie, want hy het met hulle deur ’n tolk gepraat.

24. Hy het van hulle af weggedraai en gehuil en hy het weer na hulle teruggegaan en met hulle gepraat. Hy het Shim’on onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë vasgebind.

25. Yosef het beveel dat hulle sakke vol graan gemaak moet word, elkeen se geld weer in sy sak terug gesit word en dat vir hulle padkos vir die reis saam gegee word. Dit het hy vir hulle gedoen.

26. Hulle het die graan op hulle donkies gelaai en weggegaan.

27. Toe een van hulle sy sak oopmaak om vir sy donkie voer te gee in die herberg, sien hy sy geld en let op, dit was in die bek van sy sak!

28. Hy sê vir sy broers: “My geld is aan my teruggegee en kyk, dit is in my sak!” Hulle emosie, wil en verstand het hul begewe en hulle was bevrees en sê vir mekaar: “Wat is dit wat God aan ons gedoen het?”

29. Hulle het by hul vader Ya’akov in die land Kena’an gekom en aan hom alles vertel wat met hulle gebeur het en gesê:

30. “Die man wat die meester van die land is, het ons hard aangespreek en ons as spioene teen die land aangesien,

Genesis 42