Genesis 41:21-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. en nadat dit in hulle maag ingegaan het, kon ’n mens nie sien dat hulle in hul maag ingegaan het nie, want hulle het net so lelik gelyk soos in die begin. Toe word ek wakker.

22. Ek het ook in my droom gesien; let op, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel

23. en let op, ná hulle spruit daar sewe are uit wat verdor, maer en deur die oostewind verskroei was

24. en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. Ek het dit aan die astroloë vertel, maar niemand kon dit vir my vertolk nie.”

25. Yosef sê vir Farao: “Die drome van Farao is een. God het vir Farao gewys wat Hy op die punt staan om te doen.

26. Die sewe mooi koeie is sewe jare en die sewe mooi are is sewe jare; die drome is een.

27. Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are is sewe jare van hongersnood.”

28. Dit is wat ek vir Farao gesê het: “God het vir Farao gewys wat Hy op die punt staan om te doen.

29. Let op, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele land van Mitzrayim

30. en daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek en al die oorvloed sal in Mitzrayim vergeet word en die hongersnood sal die land vernietig.

31. Die oorvloed sal nie in die land opgemerk word weens die hongersnood wat daarna sal volg nie, want dit sal baie swaar wees.

32. Die droom is twee maal vir Farao herhaal omdat die saak deur God besluit is en God sal dit gou laat gebeur.

33. Laat Farao daarom soek na ’n onderskeidende en wyse man en hom aanstel oor die land van Mitzrayim.

34. Laat Farao so maak en opsigters oor die land aanstel om in die sewe jare van oorvloed ’n vyfde deel van die opbrengs van Mitzrayim bymekaar te maak

Genesis 41