Eksodus 8:24-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

24. יהוה het so gedoen: dik swerms vlieë het in die huis van Farao, in die huis van sy diensknegte en in die hele land van Mitzrayim gekom; die land het verval as gevolg van die swerms vlieë.

25. Farao laat Moshe en Aharon roep en sê: “Gaan, offer aan julle God in die land.”

26. Moshe antwoord: “Dit is nie reg om dit so te doen nie, want ons offer aan יהוה, ons God, wat vir die Mitzrayiete ’n gruwel is. As ons dit wat ’n gruwel is vir die Mitzrayiete voor hulle oë offer, sal hulle ons nie dan stenig nie?

27. Ons sal drie dagreise ver die wildernis ingaan sodat ons aan יהוה, ons God, kan offer soos Hy ons beveel.”

28. Farao het gesê: “Ek sal julle laat gaan sodat julle aan יהוה, julle God, kan offer in die wildernis; julle moet net nie te ver weggaan nie. Tree in vir my.”

29. Moshe antwoord: “Let op, ek gaan van u af weg en sal intree by יהוה sodat die swerms vlieë Farao, sy diensknegte en sy volk môre mag verlaat. Laat Farao net nie langer bedrieglik optree deur die volk nie te laat gaan om aan יהוה te offer nie.”

30. Moshe het van Farao af weggegaan en by יהוה ingetree.

31. יהוה het gedoen volgens die woord van Moshe: Hy het die swerms vlieë van Farao, van sy diensknegte en sy volk weggevat. Daar het nie een oorgebly nie.

Eksodus 8